Vervaardiger

Regisseur

Frans Swart

MY VROU SE MAN SE VROU is seker die lekkerste klug ooit! Dit beweeg met ‘n ongelooflike vinnige pas, die intriges is by mal verby, dit vat gehore vas en laat hulle so lag, dat hulle eers asem kan haal na ‘n goeie 120 minute se vermaak. Lag is beslis in hierdie moeilike tye die beste medisyne. Glo my! MY VROU SE MAN SE VROU sorg vir daardie lekkerlagmedisyne. Ek is baie trots op my jong geselskap, wat soveel energie in hierdie produksie sit – dat dit werklik ‘n “roller coaster” word van malligeheid, deure wat oop en toe gaan en spelers wat teen ‘n tempo speel dat nie eers ‘n wegholtrein sal kan bybly nie. Dan is daar ‘n verrassing aan die einde van die produksie, maar jy sal moet kom kyk om uit te vind wat daardie spesifieke verrassing is. Kom skaterlag vir MY VROU SE MAN SE VROU!

 

Frans is reeds vir die afgelope 30 jaar aktief betrokke in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidswese. Hy begin sy loopbaan as kameraman en was deel van die begin van televisie in SA. Daarna studeer hy Drama onder die bekende Aletta Gericke. Hy behaal onder andere die Lisensiaat in Spraak in Drama van die ADK, die Finale Diploma in Drama van UNISA, ‘n BA en BA (Hons) in Kommunikasiekunde van UNISA en verskeie bestuursdiplomas. Hy speel self in verskeie produksies soos BABBELKOUS EN BRUIDEGOM, DIE BUFFEL, VLEK VAN GEREGTIGHEID, EGOLI, KINKELS INNI KABEL en vele meer. Hy speel in verskeie radiosepies en dramas vir die destydse Springbok Radio sowel as vir RSG. Sy stem word ook gereeld in advertensies en oorklankingsproduksies gehoor. As regisseur, verdien hy die titel van die klugkoning van Suid-Afrika met sy regie van verskeie klugte soos MY VROU SE MAN SE VROU, MY BOETIE SE SUSSIE SE OU, MY MAN SE LYK SE TAS, MY BOETIE SE BOETIE SE BABA, DAA’ GAAT DIE BRUID, MY VROU SE MAN SE MANNETJIE, MY OOM SE VROU SE PLEKKIE, GROET DIE GROTMAN 2 en vele meer. Hy hanteer ook die regie van ernstige dramas soos BAR EN GER, FIELA SE KIND, DIE RYPMAAKKAMER, FIELA SE KIND, MY PA en vele meer. As vervaardiger behaal hy groot suksesse soos met die AFRIKAANSE MUSIEKFEES, FIELA SE KIND, GROET DIE GROTMAN, GROET DIE GROTVROU, KERSFEES SKOUSPEL, OP REIS MET MY KONING, KLASSIEKE CHAMELEON en vele meer. Hy bring ook internasionale kunstenaars na Suid-Afrika soos Dana Winner, SMOKIE, Foster & Allen, Abba Tribute, Boney M en Leo Sayer.